Gaan na inhoud

Commiphora

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Kanniedoods
Image
'n Groenkanniedood (C. caudata) in Indië
Wetenskaplike klassifikasie e
Domein: Eukaryota
Koninkryk: Plantae
Klade: Tracheofiete
Klade: Angiospermae
Klade: Eudicots
Klade: Rosids
Orde: Sapindales
Familie: Burseraceae
Genus: Commiphora
Jacq.
Spesies

ca. 190. Sien teks.

Sinonieme
  • Balsamea
  • Balsamodendron L.
Image
C. simplicifolia in Madagaskar
Image
Die blom van 'n gewone kanniedood

Commiphora is 'n hoofsaaklik ouwêreldse genus van bome wat tot die familie Burseraceae, ook as die Mirrefamilie bekend, behoort. Die genus self staan in Afrikaans as die kanniedoods bekend, en in Engels as corkwood trees.

Kenmerke

[wysig | wysig bron]

Die bome is van 'n klein tot middelslag grootte, is soms veelstammig. Hulle groei tipies in droë bosveld- en halfwoestynareas, en is dikwels op klipkoppies en aan ravynhange aanwesig. Hulle het gepunte aromatiese blare, wat na terpentyn ruik indien hulle gekneus word. Die blare is glad of fluweelagtig, veervormig saamgestel, getrifolioleer, of minder dikwels enkelvoudig. Die plante bevat 'n sigbare, troebel melksap wat tydens droogtes egter kwalik sigbaar is. Die bas is gewoonlik glad en skilfer kenmerkend in groot papieragtige repe af. Die bas en sap is insgelyk aromaties.

Hul blomme is klein en onopvallend. Die klein, ronde tot ovoïde vrugte van sowat 1 tot 2 cm lank ontwikkel uit 'n bostandige vrugbeginsel. Die vrugte het 3 tot 5 vrugblare of karpels, maar splyt tipies in twee kleppe oop wanneer dit ryp word om die saad vry te stel. Buitelangs is die vrug met 'n dun vlesige laag, die mesokarp, bedek. Die vrug se kleur verander van groen tot bruin, rooi of pienkerig rooi namate dit ryp word, en dit kan 'n vierlobbige mesokarp hê.

Die steenvrug se harde steen (endokarp) bevat gewoonlik slegs 1, of soms 2, meestal blinkswart sade. Die sade is deels met 'n vlesige pseudo-arillus bedek. Dié is rooi, oranje of geel, en kan vier uitstulpings hê wat die saad omklem.

Gebruike

[wysig | wysig bron]

Mirre is die harsagtige stof wat deur plante van die genus afgeskei word. In tradisionele Chinese, Ajurwediese en tradisionele Arabiese medisyne word mirre as 'n belangrike medikament geag, wat algemeen in behandeling van beserings, artritis, hiperlipidemie en ander kwale aangewend word. Die hars van C. erlangeriana weer, is giftig vir mens en dier en is tradisioneel as 'n pylgif gebruik.

Die boom kan met 'n steggie voortgeplant word, en word soms as 'n heining aangewend. Hierdie taaiheid het tot die naam kanniedood gelei. Die plante is ook 'n aanwins vir rotstuine. Mense gebruik die gom van die bome om klein tuisnywerhede in Kaokoland te bedryf. Uit sommige se wortels word 'n soet, koubare sap verkry. Die ryp vrugvlees is eetbaar, en konfyt kan daarvan gemaak word. Die ryp vrugte is ook 'n gunsteling by voëls soos neushorings en spreeus, benewens klein soogdiere wat almal bydra om die sade te versprei. Olifante vind die bome smaaklik en verkies dit dikwels bo ander beskikbare spesies.

Spesies

[wysig | wysig bron]

Daar is omtrent 190 spesies in die genus.[1][2][3] Die verskillende spesies kanniedoods is nie altyd maklik van mekaar onderskeibaar nie, en daar is in onlangse jare nuwe spesies in die noorde van Namibië ontdek.

Van die Suid-Afrikaanse spesies is:

Die imboerana-kanniedood (C. leptophloeos) is inheems aan Suid-Amerika, en is die enigste van die genus in die Nuwe Wêreld.

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Bronne

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Daly et al. 2011. Burseraceae. Families and genera of vascular plants. 10:76–104.
  2. Weeks, A. en Simpson, B.B. 2007. Molecular phylogenetic analysis of Commiphora (Burseraceae) yields insight on the evolution and historical biogeography of an “impossible” genus. Molecular Phylogenetics and Evolution. 42:62–79.
  3. "Commiphora Jacq. | Plants of the World Online | Kew Science". Plants of the World Online (in Engels). Besoek op 5 Mei 2022.