Gaan na inhoud

Disa

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Disa
Image
Disa cardinalis
Wetenskaplike klassifikasie e
Domein: Eukaryota
Koninkryk: Plantae
Klade: Tracheofiete
Klade: Angiospermae
Klade: Monocotyledon
Orde: Asparagales
Familie: Orchidaceae
Subfamilie: Orchidoideae
Tribus: Diseae
Subtribus: Disinae
Genus: Disa
P.J.Bergius, (1767)
Spesies
Sien teks
Sinonieme
  • Repandra Lindl.
  • Penthea Lindl.
  • Forficaria Lindl.
  • Gamaria Raf.
  • Herschelia Lindl.
  • Monadenia Lindl.
  • Schizodium Lindl.
  • Orthopenthea Rolfe in W.H.Harvey
  • Amphigena Rolfe in W.H.Harvey
  • Herschelianthe Rauschert
  • × Herscheliodisa H.P.Linder

Disa is 'n genus blomplante in die familie Orchidaceae. Dit bestaan uit 185 spesies.[1][2] Die meeste van die spesies is inheems aan tropiese en suidelike Afrika, met nog enkeles in die Arabiese Skiereiland, Madagaskar en Réunion.[3] Disa bracteata het in Wes-Australië genaturaliseerd geraak, waar die plaaslike naam Afrika-onkruid-orgidee is.[4]

Die genus Disa is in 1767 deur P.J. Bergius benoem.[5][6] Dit is vernoem na Disa, die heldin van 'n Sweedse legende.[7] Volgens dié amusante legende sou Koningin Disa haarself eenkeer aan Koning Sveas voorgestel het met slegs 'n visnet aan. Dié verhaal sou die Sweedse plantkundige Peter Bergius aangespoor het toe hy die Kaapse orgidee Disa longicornu in 1767 benoem, nadat hy die netagtige merke op die kroonblare opgemerk het.[8]

Beskrywing

[wysig | wysig bron]

Die plante groei uit 'n vlesige knolwortel, wat 'n bron van maltodekstriene is wat as suikervervanger gebruik word. Sommige soorte bereik 'n hoogte van 90 cm. Die blomme is alleenstaande of in raseme gesorteer. Die blomblare en die lip is klein. Die blomme bestaan in wese uit die kelkblare. Die blomme wissel van 'n baie ligte kleur tot donkerrooi. Anders as meeste orgideegenera, beskik die saad van Disa-spesies oor ’n proto-endosperm wat nutriënte vir ontkieming bevat. Hierdie sade is gevolglik effens groter as ander orgideesade, maar steeds besonder klein.[9]

Bestuiwing

[wysig | wysig bron]

Disas vertoon 'n verskeidenheid bestuiwingsindrome. Elke spesie van Disa het gewoonlik 'n enkele bestuiwerspesie en byna elke beskikbare bestuiwerinsek word deur sommige Disa-spesies benut. Spesies wat by dieselfde bestuiwing aangepas het, het dikwels onafhanklik 'n soortgelyke blommorfologie ontwikkel wat die infrageneriese klassifikasie van Disa verwar het totdat kladistiese analise op DNS-reekse uit hierdie genus toegepas is.[10]

Voorbeelde van konvergerende evolusie in Disa-bestuiwing sluit die volgende in:

  • blomme wat deur skoenlappers bestuif is, het twee keer ontwikkel, byvoorbeeld die bestuiwing van Disa uniflora deur die bergnooientjie Aeropetes tulbaghia (Satyrinae)[11]
  • blomme met opvallende misleiding, bestuif deur timmermansbye, het twee keer ontwikkel.
  • langblommige blomme, bestuif deur langtongvlieë, het vier keer ontwikkel.
  • naggeurige blomme, bestuif deur motte, het drie keer ontwikkel.

Sommige Disa-spesies word deur suikerbekkies bestuif en het pollinaria wat aan die pote van die suikerbekkies kleef wanneer hulle op die bloeiwyse gaan sit.[12]

Filogenie

[wysig | wysig bron]

Die eerste molekulêre filogenie van die genus het vergelyking van kern-ribosomale ITS1-, 5.8S rDNA- en ITS2-reekse behels, en het getoon dat Herschelia en Monadenia binne 'n parafiletiese Disa genestel is.[13]

In Genera Orchidacearum volume 2, stel Disa en Schizodium die substam Disinae van die stam Diseae saam.[14] Nadat die volume in 2001 gepubliseer is, het molekulêre filogenetiese studies getoon dat Schizodium in Disa geleë is.[15][16] Schizodium bestaan uit slegs ses spesies, almal endemies aan Suid-Afrika.[17]

In 'n klassifikasie van orgideë wat in 2015 gepubliseer is, plaas Chase et alii Schizodium in sinoniem onder Disa. Hulle het ook die substam Disinae gedefinieer as bestaande uit Pachites, Disa en Huttonaea. Hierdie weergawe van Disinae is waarskynlik nie monofileties nie, maar is geskep as 'n klassifikasie om die onnodige benaming van onderwerpe te vermy voordat verdere studies die verwantskappe tussen hierdie drie genera kan opklaar.

Kweking

[wysig | wysig bron]

Disa-sade kan met matige sukses op klam sphagnummos ontkiem word.[9] Die spesie Disa uniflora Bergius staan as 'n sierplant bekend. Dit is 'n skouspelagtige rooi orgidee bekend as "The Pride of Table Mountain" of "Flower of the gods". Gekweekte spesies sluit Disa aurata, Disa cardinalis, Disa crassicornis, Disa racemosa, Disa sagittalis en Disa tripetaloides.

Basters

[wysig | wysig bron]

Die volgende spesies is gebruik om meer as 400 basters te skep: Disa cardinalis, Disa caulescens, Disa racemosa, Disa tripetaloides, Disa uniflora, Disa aurata en Disa venosa.

  • Disa × brendae (D. caulescens × D. uniflora)
  • Disa × maculomarronina (D. hircicornis × D. versicolor)
  • Disa × nuwebergensis (D. caulescens × D. tripetaloides)
  • Disa × paludicola (D. chrysostachya × D. rhodantha)

Spesies

[wysig | wysig bron]

Daar is tans 185 spesies wat erken word:[18]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Mark W. Chase; Kenneth M. Cameron; John V. Freudenstein; Alec M. Pridgeon; Gerardo A. Salazar; Cássio van den Berg; André Schuiteman (2015). "An updated classification of Orchidaceae". Botanical Journal of the Linnean Society. 177 (2): 151–174. doi:10.1111/boj.12234.
  2. Kew World Checklist of Selected Plant Families
  3. Hans Peter Linder en Hubert Kurzweil. 1999. Orchids of Southern Africa. 504 pages. A.A. Balkema. ISBN 978-90-5410-445-2.
  4. Weeds Australia, Weed Identification, African weed-orchid, Disa bracteata. Geargiveer 17 Mei 2014 op Wayback Machine
  5. "Disa Query Results". International Plant Names Index.
  6. Peter Jonas Bergius. 1767. Descriptiones Plantarum ex Capite Bonae Spei: 348.
  7. Umberto Quattrocchi. 2000. CRC World Dictionary of Plant Names volume II. CRC Press: Boca Raton; New York; Washington, DC, VSA; Londen, VK. ISBN 978-0-8493-2676-9 (vol. II).
  8. Swilling, Ron (20 Februarie 2026). "The Pride of Table Mountain". facebook. Padlangs. Besoek op 24 Februarie 2026.
  9. 1 2 "Understanding orchid seeds". aos.org. American Orchid Society. 2026. Besoek op 24 Februarie 2026.
  10. Waterman, Richard J.; Pauw, Anton; Barraclough, Timothy G.; Savolainen, Vincent (2009). "Pollinators underestimated: A molecular phylogeny reveals widespread floral convergence in oil-secreting orchids (sub-tribe Coryciinae) of the Cape of South Africa". Molecular Phylogenetics and Evolution. 51 (1): 100–110. doi:10.1016/j.ympev.2008.05.020.
  11. Johnson, S.D.; Linder, H.P.; Steiner, K.E. (1998). "Phylogeny and radiation of pollination systems in Disa (Orchidaceae)". American Journal of Botany. 85 (3): 402–411. doi:10.2307/2446333.[dooie skakel]
  12. Johnson, S.D.; Brown, M. (2004). "Transfer of pollinaria on birds' feet: a new pollination system in orchids". Plant Systematics and Evolution. 244 (3): 181–188. doi:10.1007/s00606-003-0106-y.
  13. Douzery, Emmanuel J. P.; Pridgeon, Alec M.; Kores, Paul; Linder, H. P.; Kurzweil, Hubert; Chase, Mark W. (1 Junie 1999). "Molecular phylogenetics of Diseae (Orchidaceae): a contribution from nuclear ribosomal ITS sequences". American Journal of Botany (in Engels). 86 (6): 887–899. doi:10.2307/2656709. ISSN 0002-9122. PMID 10371730.
  14. Alec M. Pridgeon, Phillip J. Cribb, Mark W. Chase, en Finn N. Rasmussen. 1999-2014. Genera Orchidacearum Oxford University Press. ISBN 978-0-19-850513-6 (volume 1), ISBN 978-0-19-850710-9 (volume 2), ISBN 978-0-19-850711-6 (volume 3), ISBN 978-0-19-850712-3 (volume 4), ISBN 978-0-19-850713-0 (volume 5), ISBN 978-0-19-964651-7 (volume 6).
  15. Bytebier, Benny; Bellstedt, Dirk U.; Linder, Hans Peter (2007). "A molecular phylogeny for the large African orchid genus Disa". Molecular Phylogenetics and Evolution. 43 (1): 75–90. doi:10.1016/j.ympev.2006.08.014.
  16. Benny Bytebier; Dirk U. Bellstedt; Hans Peter Linder (2008). "A New Phylogeny-Based Sectional Classification for the Large African Orchid Genus Disa". Taxon. 57 (4): 1233–1251. JSTOR 27756776..
  17. Linder Hans Peter (1981). "Taxonomic studies on the Disinae: 2. A revision of the genus Schizodium Lindl". Journal of South African Botany. 47: 339–371.
  18. http://plantsoftheworldonline.org/taxon/urn:lsid:ipni.org:names:325749-2