Gaan na inhoud

Pakicetus

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Pakicetus
Tydperk: Eoseen (Ipresium), 50–48 m. jaar gelede
[1][2]
Image
'n Afgietsel van P. attocki, Kanadese Natuurmuseum.
Wetenskaplike klassifikasie e
Domein: Eukaryota
Koninkryk: Animalia
Filum: Chordata
Klas: Mammalia
Orde: Artiodactyla
Infraorde: Cetacea
Familie: Pakicetidae
Genus: Pakicetus
Gingerich & Russell 1981
Tipespesie
†Pakicetus inachus
Spesies

Pakicetus (wat "walvis van Pakistan" beteken) is 'n uitgestorwe genus van amfibiese walvisagtiges van die familie Pakicetidae wat tydens die Ipresium (vroeë Eoseen) sowat 50 miljoen jaar gelede inheems aan Suid-Asië was.[2] Dit was 'n wolfagtige soogdier[3] van sowat 1-2 m lank,[4] en het in en om water voorgekom waar dit vis en ander diere geëet het. Die naam 'Pakicetus" kom van die feit dat die eerste fossiele van dié dier in Pakistan ontdek is.

Die meeste paleontoloë beskou Pakicetus as die mees basale walvis, wat 'n oorgang van soogdiere na walvisse verteenwoordig. Die dier behoort tot die ewehoewiges en sy naaste lewende familielid is die seekoei.[3]

Klassifikasie en beskrywing

[wysig | wysig bron]

Pakicetus is as 'n vroeë walvisagtige geklassifiseer op grond van sekere eienskappe van die binne-oor wat net in walvisagtiges voorkom. Dit is erken as die vroegste lid van die familie Pakicetidae. Pakicetus verteenwoordig dus 'n oorgangstakson tussen uitgestorwe landsoogdiere en moderne walvisagtiges.[5]

Volgens die groottes van spesimens was Pakicetus-spesies vermoedelik 1-2 m lank.[4] Dit het baie anders as moderne walvisagtiges gelyk – sy liggaam het meer soos dié van hoefagtige landsoogdiere gelyk. Anders as alle latere walvisagtiges het dit vier lang bene gehad wat ten volle funksioneel was. Pakicetus het 'n lang snoet, 'n buigsame nek, 'n tipiese stel tande en 'n kragtige stert gehad.[6] Rekonstruksies van pakicetides word dikwels met 'n pels uitgebeeld, maar as hulle verwantskap aan seekoeie in ag geneem word, het hulle dalk min liggaamshare gehad.[4]

Die eerste fossiel wat ontdek is, het bestaan uit 'n onvolledige skedelkap en 'n gebreekte kakebeen met 'n paar tande. Volgens die kiestande kon die dier dalk vleis skeur, en die tande se verwering dui daarop dat dit vis en ander klein diere geëet het. Die tande het ook aangedui dat Pakicetus plant- en allesvretende voorsate gehad het .[4]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Bajpai, S.; Gingerich, P. D. (22 Desember 1998). "A new Eocene archaeocete (Mammalia, Cetacea) from India and the time of origin of whales". Proceedings of the National Academy of Sciences (in Engels). 95 (26): 15464–15468. Bibcode:1998PNAS...9515464B. doi:10.1073/pnas.95.26.15464. ISSN 0027-8424. PMC 28065. PMID 9860991.
  2. 1 2 Thewissen et al. 2009.
  3. 1 2 Black, Riley (1 Desember 2010). "How Did Whales Evolve?". Smithsonian Magazine (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 Maart 2014. Besoek op 16 November 2020.
  4. 1 2 3 4 Geisler, Jonathan; Ho, Melody. "Pakicetus spp". Cetacean Family Tree. NYIT College of Osteopathic Medicine. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 November 2014. Besoek op 21 Januarie 2014.
  5. Gingerich & Russell 1981.
  6. Marx, Felix; Lambert, Oliver; Uhen, Mark (2016). Cetacean Paleobiology. Topics in Paleobiology (1st uitg.). Wiley-Blackwell. ISBN 978-1118561270.

Bronne

[wysig | wysig bron]

Skakels

[wysig | wysig bron]